Daar is net te veel misdaad-brandpunte in Kaapstad wat terselfdertyd opvlam en te min polisiëring om al die geweld te keer, sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid.
Hy sê in ’n verklaring hoewel die polisie van die Kaapstadse metroraad met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) saamwerk om so doeltreffend moontlik ekstra operasies uit te voer is die waarheid dat hulle nie met die beperkte hulpbronne op een slag oral kan uitkom nie.
Sy kommentaar kom ná ’n naweek van geweld waarin talle mense in en om Philippi op die Kaapse Vlakte vermoor is.
Hy sê hoewel die Kaapstadse metroraad gereeld daarvan beskuldig word dat hy nie teen die geweld en veral teen bendegeweld optree nie, het die raad sy hulpbronne in die afgelope dekade eksponensieel vergroot om die leemte in die polisiëring te vul.
Hy sê metropolisielede se magte is egter beperk – hulle mag nie misdade ondersoek of oortreders vervolg nie.
“Daar kan nie aanhoudend van ons as ’n plaaslike regering verwag word om die gaping te vul wat ander staatsagentskappe laat nie,” sê Smith.
Hy het herhaal dat die nasionale regering nie durf voortgaan om hom doof te hou vir die ernstige tekort aan hulpbronne in die SAPD in die Wes-Kaap nie.
Smith het weer ’n pleidooi gelewer dat die geraamde 4 500 vakatures, wat die afgelope vier jaar in die polisie in die Wes-Kaap ontstaan het, as ’n saak van erns gevul word.
-Netwerk 24
Hierdie berig weerspieël nie noodwendig die mening van SAUK-nuus nie.