Wes-Kaap gebruik net 24% van R74,8 miljoen rampgeld om droogte- en waterkrisis in Kaapstad te takel

Die Wes-Kaapse regering moet rekenskap gee oor waarom hulle net 24% van die R74,8 miljoen wat die nasionale regering verlede jaar toegeken het om die droogte- en waterkrisis in Kaapstad te takel, tot dusver gebruik is.

Dan soek Des van Rooyen, minister van samewerkende regering, ook antwoorde oor hoe die DA-regeerde Kaapstad-metro ook midde-in die waterkrisis sowat R500 000 aan ’n maatskappy van Tony Leon, voormalige DA-leier, vir ’n kommunikasiestrategie oor die waterkrisis kon betaal.

Van Rooyen het Dinsdag voor die parlement se portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake verskyn om verslag te doen oor wat sy departement tot dusver gedoen het om die droogte te hanteer.

Hy het aangekondig dat ’n interministeriële taakspan, wat pres. Jacob Zuma vroeër weens die droogte aangestel het, Dinsdagmiddag sou vergader om te bepaal of die droogte en waterkrisisse in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap as ’n nasionale ramp verklaar moet word.

Dit sal volgens Van Rooyen beteken die nasionale regering sal die hantering van die droogte- en waterkrisis in elk van dié provinsies oorneem totdat dit weer onder beheer is.

Hy sê die uitwerking van die droogte kan in ekonomiese, maatskaplike en omgewingsdimensies gesien word en dit verlam die land.

Volgens hom is verskeie ingrypings reeds in werking om die droogte te bestuur.

Ek is egter ontevrede omdat die Wes-Kaap in ses maande tot dusver net 24% van die R74,8 miljoen gebruik het.

Dit sluit onder meer die gereelde uitreik van vroeë droogtewaarskuwings in, sowel as nuwe boorgate, waterbeperkings, die verskaffing van veevoer, die aanry van water in watertenks en die vermindering van die waterverbruik van grootmaatverbruikers soos plaasboere.

Hy sê die nasionale regering het in Augustus verlede jaar die R74,8 miljoen se droogtehulp aan die Wes-Kaap toegestaan.

“Ek verwerk tans ook versoeke van die Noord-Kaap en die Oos-Kaap vir finansiële bystand. Ek is egter ontevrede omdat die Wes-Kaap in ses maande tot dusver net 24% van die R74,8 miljoen gebruik het.”

Hy meen dit ondermyn die doel van noodfondse en bemoeilik sy departement se pogings op nasionale vlak om meer geldelike hulpbronne vir die Wes-Kaap se waterkrisis te kry.

Volgens Van Rooyen moes hy ook deur die media uitvind dat R500 000 op ’n kommunikasiestrategie (van Leon) se maatskappy gespandeer is.

“Ek volg dit op en verwag antwoorde daaroor.”

Kevin Mileham, DA-LP, wou by Van Rooyen weet waarom hy nie al in 2014 ’n nasionale ramp verklaar het toe die DA daarvoor gevra het nie.

“Die antwoord destyds was dat dit die hele land moes raak. In ’n stadium was agt provinsies deur droogte geraak en die minister het steeds niks gedoen nie.

“Hy het geweier om (droogte-verligting-)geld beskikbaar te stel. Nou kom pronk hy (polities in die parlement). Dit is onaanvaarbaar.”

Mileham wou ook weet waarom Van Rooyen se departement verlede jaar self sowat R300 miljoen in rampfondse onderbestee het.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment