Water vir Kaapse boere uit Theewaterskloofdam gelaat

Die sluise van die Theewaterskloofdam is sedert 1 November oop en sal oop bly vir die afsienbare toekoms totdat almal wat water vir besproeiing moet kry, dit ontvang het.

Die dam verskaf die meeste van die water aan die droogte geknelde Kaapse Skiereiland waar inwoners Woensdag gehoor het hulle kan reeds so vroeg as 18 Maart toustaan vir drinkwater. Dít sal gebeur indien “inwoners nie meer water spaar nie”.

Die departement van waterwese en sanitasie het Woensdag by navraag gesê: “Besproeiers aan Riviersonderend is geregtig op hul toewysing. Die vrylatings is egter verminder tot 60% van hul toewysing.”

Verder word water vrygelaat vir onttrekking deur die Overbergse Waterraad as waterverskaffer vir Caledon, die nedersettings van Protem (noord van Bredasdorp), Klipdale en boere in die Rûensveld.

Volgens die departement sal die sluise eers toegemaak word wanneer die “besproeiers hul volledige deel geneem het van die verminderde toewysings voor April 2018”.

“Vrylatings kan ook per geleentheid gebeur indien watersekuriteit in die Overbergse Waterraad onder erge druk is om aan hul verbruikers water te gee.”

Indien die Breederivier te laag raak, moet water uit die Brandvleidam vrygelaat word. Die Theewaterskloofdam word ook vir landbou aangewend.

Die Kaapstadse stadsraad sê landbou verbruik water teen dieselfde koers as die stad. Die gemiddelde damvlakke staan nou op 33% – sowat 1,1% minder as verlede week. Navrae oor die sluise wat oop is, is na die departement van waterwese verwys.

De Clercq sê: “Ons sit met ’n situasie dat 70% van die werksgeleenthede met landbou verband hou. Ons moet ’n balans hou. Indien ons met die landbou peuter, sal alles ineenstort. Dan sal nog meer mense na Kaapstad stroom en dan sal daar nog minder water wees.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment