Vier mans van Beaufort-Wes vas na ‘gesteelde’ skaap in kattebak gevind is

Vier mans van Beaufort-Wes is vasgetrek nadat ’n vermoedelik gesteelde skaap in die kattebak van ’n motor gevind is.

Die mans is onlangs in hegtenis geneem en sou in die hof in Beaufort-Wes verskyn op ’n aanklag van veediefstal, luidens ’n polisieverklaring.

Die vier is tussen 34 en 39 jaar oud en is deur polisielede van die Sentraal-Karoo se K9-eenheid (Beaufort-Wes se honde-eenheid) by ’n padblokkade op die N1 naby Beaufort-Wes vasgetrek, sê kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder.

“Toe die voertuig deursoek is, het hulle afgekom op die skaap wat in die kattebak versteek was. Die mans is toe in hegtenis geneem.”

Met verdere ondersoek het die polisie afgekom op ’n tweede skaap by ’n kamp sowat 20 km verder. Dié skaap is na bewering uit dieselfde kamp gesteel as die eerste een.

Pojie het gewaarsku dat die polisie ’n hoë sigbaarheid gaan handhaaf op hoof- en sekondêre roetes en padblokkades sal deurlopend voorkom. Dit is om kriminele bedrywighede soos dwelmsmokkelary en dié van ander onwettige goedere, soos lewende hawe, stop te sit.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment