Kaap word gevaarlik – DA-beheerde Wes-Kaapse regering onbevoegd om misdaad te bekamp

Die Kaap is nie meer die misdaadvrye gebied wat dit was nie en steeds meer gewelddadige misdaad kom voor, veral op toeriste, terwyl die DA-beheerde Wes-Kaapse regering skynbaar net so onbevoeg is om iets daaraan te doen as die ANC in die ander provinsies.

Nadat verskeie stappers die naweek op Tafelberg aangeval en ernstig beseer is, het vyf fietsryers van Stellenbosch ‘n “helse ondervinding” gehad toe twee mans hulle in die Ou Helshoogtepas aangeval het met messe en stokke.

Die polisie het vinnig gereageer en die twee mans is kort daarna gearresteer.  Die fietsryers het slegs geringe beserings opgedoen.

Die afgelope naweek is ʼn bejaarde plaasvrou van Stellenbosch gruwelik aangeval en aangerand. Mev. Susan Joubert (87) van die plaas Aan-Den-Weg is Sondagmiddag deur drie of vier terroriste aangeval nadat haar twee honde doodgesteek is. Sy is beroof en is beseer nadat haar juwele onder meer van haar afgestroop is.

VF Plus se leier in die Wes-Kaap, dr. Corné Mulder, sê die aanval is skokkend en die polisie en die gemeenskap van die Wes-Kaap moet hande vat om te sorg dat plaasaanvalle nie ook ʼn algemene verskynsel in dié provinsie word nie.

Dr.  Mulder sê nadat die Wes-Kaap vir jare die euwel van plaasaanvalle grootliks ontkom het, was daar einde verlede jaar ʼn vlaag aanvalle wat nou voortgesit is met ʼn wrede aanval die afgelope naweek net buite Stellenbosch.

Sowat twee maande gelede is ʼn boer van Klapmuts naby Stellenbosch, mnr. Joubert Conradie (47) op sy plaas Uitkyk doodgeskiet.

Twee weke voor dit is mnr. Mark Fagan (46) van Klein Dassenberg naby Philadelphia in ʼn aanval doodgeskiet.

Enkele weke voor dié aanval is ʼn boer van Ceres in die Koue Bokkeveld in sy plaaswinkel aangeval en verskeie kere met ʼn mes gesteek. Hy het die aanval oorleef.

Dr. Mulder sê die Kaap hou lank reeds asem op oor die moontlikheid van plaasaanvalle wat tot dusver feitlik ongekend was in dié provinsie. “Dit is in hierdie stadium nog nie moontlik om te sê of die aanvalle die begin is van ʼn vlaag van hierdie soort misdaad in die Wes-Kaap is nie. Wat tot nou toe gebeur het moet nogtans die gevaarligte skerp laat flikker.”

Die VF Plus wil plaaslike boere maan om met ʼn nuwe ingesteldheid veiligheid op hul plase te benader, om dit op te skerp en om voortdurend waaksaam te wees aangesien plaasaanvalle wel op enige plek in die land kan voorkom.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment