EFF wil nog grond by Jonkershoek beset

Die EFF beplan steeds om voor einde Januarie gesogte grond langs die Jonkershoek-natuurreservaat in Stellenbosch te beset.

Bernard Joseph, EFF-leier in die Wes-Kaap, het Donderdag bygevoeg dat dié party van Julius Malema reeds Vrydagoggend van sy lede en ondersteuners na die geskiedkundige Meulsloot-/Lovers Lane-gebied op die studentedorp gaan neem “vir ’n piekniek sodat hulle die gebied kan sien”.

Volgens Joseph kom die stap nadat die EFF laat verlede jaar briewe aan sowel die nasionale vervolgingsgesag as die Wes-Kaapse premier, hoof van die Valke in die provinsie en die burgemeester van Stellenbosch geskryf het.

“In dié briewe het ons hulle gevra om ondersoek in te stel na 32 erwe wat grens aan die Jonkershoek-natuurreservaat wat oor die jare onwettig vergroot is.

“Hier is ryk en vooraanstaande families van Stellenbosch betrokke wat die grond (na bewering) ‘gesteel’ het deur hul erwe oor die jare onwettig van die een kant van die kanaal tot die ander kant te vergroot.

“Die munisipaliteit het niks daaraan gedoen nie,” sê Joseph.

Volgens Joseph het die EFF bewus geraak van die “onwettige vergroting” van die betrokke erwe en die party het selfs ’n landmeter aangestel om “navorsing te doen rakende die steel van die erwe”.

“Ons het nou die dokumente wat dit kan staaf.”

Joseph sê die EFF wil met sy beplande grondbesetting in Stellenbosch ’n punt bewys “en die munisipaliteit ontbloot”.

Ons gaan dus die grond tussen die bestaande huise voor die einde van hierdie maand beset.

“As nieblanke mense grond beset, word daar dadelik hofinterdikte verkry of word besetters baie gou van die grond verwyder.

“Hierdie erwe is egter oor ’n baie lang tydperk ‘gesteel’.

Ons gaan dus die grond tussen die bestaande huise voor die einde van hierdie maand beset.”

Die planne is volgens hom ook deel van die party se beleid van onteiening van grond sonder vergoeding.

Joseph het daarop gewys dat die EFF ook nog wag op terugvoering van diegene aan wie sy aanvanklike brief gerig is.

“Die enigste mense wat nog na ons teruggekom het, is die Valke.”

Die EFF sal volgens hom Vrydag vanaf 11:00 in Stellenbosch vir die “piekniek” begin saamtrek.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment