Polisie ontlont onlus in Stellenbosch na inwoners slaags raak met mekaar

Die polisie se eenheid vir openbare polisiëring moes Maandagaand tussenbeide tree toe ’n groep van sowat ’n duisend inwoners van twee gemeenskappe in Stellenbosch met mekaar slaags geraak het.

Volgens die polisie is inwoners van Kayamandi ongelukkig omdat die munisipaliteit die kragtoevoer na die Enkanini-gebied afgesny het.

’n Groep inwoners van Kayamandi het Maandagaand na die nabye Ozone-gemeenskap oorbeweeg en onder meer paaie met brandende bande versper.

Sover verstaan word, het inwoners van Ozone wat ongelukkig was met die situasie, die betogende inwoners van Kayamandi aangevat, waarna ’n oor-en-weer-klipgooiery tussen die twee groepe ontstaan het.

Die polisie is ontbied om die situasie onder beheer te bring en was Maandagaand teen 22:30 steeds op die toneel.

Dit was nie onmiddellik bekend of enigiemand ernstig tydens die onluste beseer is en of enige infrastruktuur beskadig is nie.

Die polisie hou die situasie dop.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment