Mynbou en staalbedryf: Myne en hulle s’n

Argieffoto

Deur Marelize Maré

Die afleggings in die mynbousektor en staalbedryf die afgelope ruk veroorsaak nie net onbestendigheid in die land se ekonomie nie, maar sorg vir onsekerheid vir etlike werknemers en hul afhanklikes.

Die vakbond, Solidariteit, het onlangs gesê dat die staalreus, ArcelorMittal Suid-Afrika, se herstruktureringsplan bloot net ʼn rookskerm is om werkers af te lê, nadat die maatskappy aangekondig het dat hy reeds met sy konsultasieproses begin het.

Die geraamde getal werknemers wat deur dié stap geraak sal word, is waarskynlik 50 en daar word voorspel dat dit ʼn reuse-uitwerking op gemeenskappe sal hê.

Intussen het die goudmynmaatskappye, Harmony Gold en Gold Fields, genoeg verdien om hul aandeelhouers met dividende te beloon, terwyl AngloGold Ashanti en Sibanye albei waarsku dat hulle groot verliese verwag en duisende werkers sal moet aflê om kop bo water te hou.

Die maatskappy het vroeër gesê dat hy 7 400 van sy werknemers sal moet aflê.

Benewens hierdie kriewelrighede in die mynbousektor en staalbedryf, is dit nou vyf jaar ná die Marikana-slagting waartydens 47 mense doodgeskiet is.

In Augustus 2012 het stakende mynwerkers geëis dat hul lone met 300% verhoog word en hul gewelddadige betogings het die polisie se eenheid vir openbare orde genoop om op oproeriges los te brand.

Die media berig ook dat nog geen polisiebeampte wat by die voorval betrokke was, in hegtenis geneem is nie en die nasionale vervolgingsgesag word nou uit verskeie oorde gekritiseer oor die sloer met die vervolging van die sogenaamde moordenaars onder die polisie.

Die president van die vakbond, Amcu, het hom ook uitgespreek oor die Marikana-slagting en sê dat dit geensins verskil van 1960 se voorval in Sharpeville nie.

Hy meen dit is ʼn skande dat die mense wat beweer dat hulle die land bevry en polisiegeweld teen betogers veroordeel het, dieselfde mense is wat toelaat dat die polisie betogende mynwerkers van agter doodskiet.

Om die kroon te span sal Kropz Elandsfontein die inbedryfstelling van sy fosfaatmyn naby Langebaan in die Wes-Kaap uitstel, so daar is nie binnekort hoop vir werkskepping vir die afgelegdes nie.

Dit volg ná die vertraging in die uitreiking van die myn se watergebruikslisensie. Die situasie word ook vererger deur tegniese uitdagings en die prys van fosfaat, wat die laagste punt in tien jaar bereik het.

Intussen lyk die toekoms by die Lily- en Barbrook-goudmyn nie rooskleurig nie, nadat nog ʼn mynmaatskappy op die laaste nippertjie besluit het om dit nie te koop nie. Die onderhandelinge met Galane Gold van Kanada en Vantage Goldfields van Australië het deur die mat geval.

Die bedrywighede by die Lily-myn naby Barberton in Mpumalanga het verlede jaar tot ʼn stilstand gekom toe die myn ineengestort het en drie mynwerkers onder die grond in ʼn vraghouer vasgekeer is. Hulle is steeds nie na die oppervlak gebring nie.

Dit laat die vraag by landsburgers ontstaan oor waarheen die land met sy minerale hulpbronne, mense en ekonomie op pad is en wat hulle in die toekoms te wagte kan wees.

Mense het geld nodig, en om geld te verdien moet daar werk wees, en om werk te skep is volhoubare ekonomiese groei nodig.

Dit klink soos een groot bose kringloop wat lelik skeefgeloop het.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment