Die Son publiseer artikel om hul wanindruk van Katriena Esau, eerste vroulike hoof van die Westelike N//n#e stam reg te stel

MAANDE nadat sy tot nuwe leier van die Boesmans verkies is, sien sy daar nog goed uit – al is sy al ’n bejaarde vrou.

Katriena Esau (82) van Upington is vroeër vanjaar as eerste vroulike hoof van die Westelike N//n#e, ’n stam van die ‡Khomani San, ingehuldig.

Esau, ook bekend as die ‡Xuu, het ook in 2013 die gesogte Baobab-toekenning van pres. Jacob Zuma ontvang vir haar pogings om die N/uu-taal te laat voortleef.

Charles Tities, Esau se seun, sê sy ma is “baie gelukkig” met haar nuwe titel as stamhoof, wat “gelykstaande is aan dié van ’n koningin”.

Hy voeg by: “Sy kan nou iets meer beteken vir haar mense. Haar groot doel is eenheid onder die Khoisan-gemeenskappe.”

Hy sê al is sy ma ’n pensioentrekker, lei sy steeds jong Boesmankinders op in hul inheemse taal.

Esau is een van net vier mense wat steeds die oeroue N/uu-taal vlot kan praat.

Tities vertel hoe sy ma destyds Boesman-taallesse op hul voorstoep gegee het. “Ons het nou ’n skooltjie waar sy aan meer as 40 leerders hul taal leer.”

Hy sê haar gesondheid is “nog op peil” en voeg by: “Sy kry so af en toe ’n verkoue, maar sy doen steeds haar harde werk.”

Tities sê Esau is onlangs benoem as kandidaat vir die titel van Noord-Kapenaar van die jaar.

Kaptein Benjamin Marsala, leier van die Boesmans in die Wes-Kaap, sê Esau is steeds op 82 jaar besig om hul kultuur te bevorder.

“Tydens kolonialisme was ons kultuur en taal byna verlore, maar ouma Katriena is steeds besig om ’n nalatenskap te bewerkstellig wat ons kinders en kleinkinders verder kan vat,” sê Marsala.

Wendy Williams, lid van die Khoisan-verwysingsgroep, sê Esau is “fenomenaal”. Sy sê diegene wat Esau se nuwe titel bevraagteken, moet feite hê om dit te kan doen.

“Daar is geen gronde om haar titel te bevraagteken nie.”

Williams sê mense dink omdat die regering haar erkenning gee as ‡Xuu, is sy deel van die ANC.

“Maar in die Noord-Kaap werk ons mense baie nou saam met die plaaslike regering as dit kom by kulturele kwessies, anders as in die Wes-Kaap, waar ons sukkel om insette te kry,” meen sy.

Khoisan-groepe het by die persombudsman gekla en ’n verhoor het gevolg omdat ’n vorige berig die koninginskap van Katriena Esau bevraagteken het en nie gebalanseerd was nie. Daar is ook bevind dit het die reputasie van Esau en haar mense geskend. Daarom publiseer Son op Sondag nou met graagte ’n opvolgberig om dié saak reg te stel.

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment