DA al in 2011 gewaarsku oor waterkrisis

Die Stad Kaapstad kry vanuit opposisiegeledere behoorlik die wind van voor na sy besluit om ‘n sogenaamde droogteheffing in te stel.

Erika Botha-Rossouw, VF Plus-raadslid vir Stad Kaapstad, sê dit is onregverdig om nou deur ʼn heffing die inwoners te straf omdat hulle voldoen aan die oproep om water te bespaar, en die tyd het aangebreek dat die DA en sy Kaapstadse burgemeester Patricia de Lille opstaan en aanspreeklikheid vir die krisis aanvaar.

Botha-Rossouw sê dit druis in teen die aanvaarde beginsel dat gebruikers moet betaal vir dit wat hulle gebruik. Kapenaars moet nou betaal omdat hulle nie gebruik nie. Die VF Plus het teen die heffings gestem.

Volgens Botha-Rossouw het die VF Plus die DA reeds in 2011 in ʼn raadsvergadering gewaarsku dat rampspoed rondom water Kaapstad se voorland is indien daar nie voortydig opgetree word en voorsorgmaatreëls getref word nie.

“Mnr. André Fourie, destydse raadslid van die VF Plus vir Kaapstad, het dié waarskuwing op 1 September 2011 aan die DA gerig. Hy het egter nie net gewaarsku nie, maar het praktiese, werkbare voorstelle aan die hand gedoen, soos die sink van boorgate, ontsouting en die opdamming van bergwater wat bloot in die see beland.

“Dié waarskuwing en voorstelle is geïgnoreer en afgelag. Toevallig is dit presies wat die DA nou aan die hand doen om die krisis te probeer beredder. Tog is daar nog nie eens daarmee begin nie. Dit is in hierdie kritieke laat stadium bloot nog net planne.

“Ek het persoonlik in ʼn raadsvergadering op 26 Oktober 2016 aan burgemeester De Lille gevra of die stad op ʼn waterkrisis afstuur, wat die omvang daarvan is en wat die gebeurlikheidsplanne is.

“Die verstommende en snedige antwoord van De Lille was dat ek waarskynlik op ʼn ander planeet woon, want daar is nie ʼn waterkrisis in die Kaap nie.

“Die tyd het aangebreek dat die De Lille en die DA opstaan en volle verantwoordelikheid aanvaar vir die krisis. In stede daarvan word die reeds swaar belaste inwoners nou gestraf,” sê Botha-Rossouw.

Foto: Voormalige raadslid Andre Fourie

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment