Boek-uittreksel: Kamikaze

Deur Rudie van Rensburg

Oor die boek:
Kassie Kasselman is kriewelrig. Sy lewe lank ʼn polisieman gewees, maar wragtag, wat hy nóú alles in die media oor sy geliefde SAPD lees. En met sy eie oë sién ook, in kolonel Daniels se kantoor by die Nuweland-stasie. Kassie het juis ʼn ander werksaanbod gehad … En dan moet dit natuurlik só kom dat hy in die middel van sy loopbaankrisis teen die grieseligste moordenaar nóg te staan kom. Die Pion se moordloopbaan het tentakels wat terugstrek na die apartheidsera, met moderner euwels soos die Afrika-handel in vervalste medikasie wat ook Kassie se aandag verg. Slim skuiwe, dis wat Kassie moet maak, en gou ook … Spioenasie en parlementêre wapenhandel-korrupsie, die ontkleeklubskemerwêreld en ’n kil reeksmoordenaar uit jou nagmerries – Kamikaze is Van Rensburg se spannendste roman nóg!

Oor die outeur:
Rudie van Rensburg is in Bloemfontein gebore. Hy begin sy loopbaan as joernalis by Volksblad, was medestigter en uitgewer van Bloemnuus, en later redakteur van Die Ekonoom. In 1987 verhuis hy Kaap toe. Rudie se skilderye is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika en oorsee. Sy romans is Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana en Kamikaze.

Uitgewer: Queillerie
Prys: R260-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R208-00*
*Prys onderhewig aan verandering

 

Uittreksel uit die boek:

Kassie staar na die toneel voor hom. Die nylontou is diep ingebed in Fred Smuts se nek. Hy hang roerloos aan ’n stewige houtbalk in die ruim studeerkamer, arms slap langs sy sye, voete effens na onder gepunt. Op die vloer lê ’n stoel op sy rug.

“Pollie was reg.” Rooi wys na Smuts se gewrigte. “Daar’s duidelike skaafmerke. Dié ou was vasgebind.”

Kassie knik. Hulle aanvanklike vermoede van selfmoord is vinnig aan die verdwyn.

Die stasie het vanoggend kwart oor sewe ’n oproep van Smuts se suster gekry. ’n Span uniforms onder leiding van kaptein Paulse het kom ondersoek instel. Pollie het kolonel Daniels toe by sy huis gebel en gesê hy vermoed dit was nié selfmoord nie.

Kassie en Rooi het net by die werk geland toe Daniels hulle opdrag gee om hierheen te kom. Die geskokte huishulp het gesê die Van Zyls is op pad van waar hulle op Hermanus vakansie gehou het. Sy het hulle vroegoggend gebel nadat sy op die lyk afgekom het.

Die Van Zyls was gou daar. Die vrou was histeries; skynbaar was Smuts haar enigste broer. Haar man het die toneel een kyk gegee, uitgehardloop en in die gang opgegooi.

“Hier’s Da Silva-hulle nou,” sê Rooi. “ ’n Mens hoor sy groot bek op ’n afstand.”

Kassie kyk op sy horlosie. “Ook hoog tyd.”

Da Silva lei die forensiese entourage die studeerkamer in.

“Wie’t in die gang gekots?” vra hy. “Rooi?”

Rooi se sproetgesig word nog rooier. “F** jou, Da Silva.”

“All yours,” sê Kassie en beduie na Smuts. “Ek en Rooi gaan nou met die Van Zyls praat.”

Da Silva beskou die lyk. “Wat’s julle gevolgtrekking?”

“Dis mos eintlik julle job om vir ons te sê,” kap Rooi na hom.

Kassie onderdruk ’n sug. Hy sal met Rooi en Da Silva moet praat.

Hulle is deesdae voltyds in mekaar se bleddie hare.

“Lyk nie soos selfmoord nie,” sê hy.

“Selfdood,” korrigeer Da Silva hom. “Dis mos die fancy nuwe naam wat die koerante daarvoor gee.”

“Ek dog jy lees nie koerant nie,” brom Rooi.

Hy volg Kassie by die deur uit. Hulle kry die Van Zyl-egpaar op ’n rusbank in die sitkamer. Die man, sy gesig wasbleek, se hand rus vertroostend op sy vrou se skouer. Haar oë is dik gehuil.

“As dit nie nou vir julle ’n geskikte tyd is om te gesels nie, kan ons dit later vandag doen,” sê Kassie.

Die vrou skud haar kop. “Ons kan praat. Ons is kalm.”

“Het julle kinders?” Kassie wil nie dadelik met die deur in die huis val nie.

“ ’n Seun en dogter,” sê die man. “Tweeling, albei vanjaar op hoërskool. Hulle het op Hermanus by vriende agtergebly. Ons wou hulle nie blootstel aan dié trauma nie.”

“My broer sou nóóit selfmoord gepleeg het nie,” praat die vrou skielik driftig.

“Hoekom sê u so?” vra Kassie.

“Hy’t beslis nie aan depressie gely nie. Hy was ’n lewenslustige mens wat vir sy werk geleef het. Ek het vinnig in sy kamer gekyk – dis deurmekaar. Iemand het daar rondgekrap. Fred was hipernetjies. Sy bed self opgemaak, sy klere getrou opgehang en al sy ander goed georganiseerd op die tafeltjie in die slaapkamer gepak. Sy skootrekenaar en al die ander goed op die tafeltjie is nou weg.” Sy kyk na haar man. “Behalwe as hy dit studeerkamer toe gevat het?”

Dié skud sy kop. “Ek’t niks daar gesien nie.”

“Ons … ons gaan nou bietjie vinnig,” sê Kassie. “Kom ons begin by ’n punt.”

Rooi leun oor na die vrou. “Hoe oud was u broer?”

“Drie-en-veertig, drie jaar ouer as ek.”

“Getroud?” vra Kassie.

“Geskei. Al amper tien jaar.”

“En sy beroep?”

“Vryskutjoernalis.”

“Hy was ’n bekende ondersoekende joernalis,” sê die man.

“So hy het vir homself gewerk?” vra Kassie.

Sy knik. “Al die afgelope vyftien, sestien jaar. Hy was voorheen by Rapport in Johannesburg.”

“Het hy ’n spesialisgebied gehad … waaroor hy geskryf het, bedoel ek?” vra Rooi.

Sy skud haar kop. “Nie regtig nie, maar hy was passievol daaroor om onreg bloot te lê. Hy was baie bedrywig in Afrika, soms in die Midde-Ooste. Was selfs al in Indië en China agter stories aan. Sy reeks artikels van so drie jaar gelede oor kinderarbeid in Indië het tot die Time gehaal.” Sy glimlag hartseer. “Hy was so trots daarop. Hy’t ook nog ’n belangrike Amerikaanse joernalistieke toekenning vir daardie artikels gekry.”

“Was hy nou weer besig om iets te ondersoek?” vra Kassie.

“Ja. Dis juis waarom hy in die Kaap by ons kom bly het. Hy’s eintlik van Johannesburg.”

“En wat het hy ondersoek?”

Sy skud haar kop. “Dit weet ons nie. Fred het nooit ’n woord gerep oor sy ondersoeke nie. Omdat hy vir homself gewerk het, was hy baie geheimsinnig – altyd bang iemand anders kom daarvan te hore en scoop hom. Hy was die afgelope jaar of twee baie in Afrika vir dié storie. Hy’t net genoem hy’s amper klaar, maar dat hy eers nog mense hier in die Kaap moet sien.”

“Het hy al die mense gaan sien?”

Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie. Ons was net twee dae saam met hom hier voordat ons Hermanus toe is. Ons was die afgelope twee en half weke daar … ons sou eintlik eers môre terugkom. Hy’t sommer ook die huis vir ons opgepas.”

“Het hy dalk laat val vir watter publikasie hy van plan was om sy artikels te gee?” vra Rooi.

“Nee, ek dink nie hy’t al self besluit nie.”

“Verskoon dat ek vra,” sê Kassie fronsend, “maar hoe kan ’n vryskutjoernalis bekostig om die wêreld te deurkruis sonder om deur ’n publikasie geborg te word? Hy kon tog nie so baie geld met die artikels verdien het nie?”

Die vrou lyk verleë. “Ek en my broer het goed geërf toe ons ouers oorlede is – hulle was jare gelede in ’n motorongeluk. Hy kon die reise bekostig. Hy’t in elk geval nie geskryf om regtig geld te verdien nie, maar omdat sy werk sy passie was.”

“Jammer ek pla.” Da Silva stap in met ’n forensiese bewyssakkie in sy hand. Hy hou dit na die vrou uit. “Lyk hierdie vir u bekend?”

Sy neem die sakkie en kyk fronsend na die inhoud. “Dis ’n skaakstuk.”

Da Silva knik. “Ons het dit in jou broer se hempsak gekry.”

“Fred het nie skaak gespeel nie,” sê sy verbaas. “Ons het nie eers ’n skaakstel in die huis nie.”

Haar man bekyk dit ook. “Dis ’n pion,” merk hy op.

 

Die buurman vra hoe dit gaan, beleefd, en soos altyd effens huiwerig.

Die Pion ignoreer hom. Hy keer sy rug na die man wat by die heining staan en stap sy huis binne.

Die Pion hou nie van mense nie, daarom het hy nie vriende nie.

Hy vind berusting in die geselskap van sy labrador, wat nie vir hom bang is nie.

Mense is bang vir hom, dit weet hy. En nie net dié met wie hy besigheid doen nie. Mense tree oor die algemeen vreemd op in sy teenwoordigheid. Wanneer hy by die koffiewinkel hier anderkant instap, word dit stil. Mense begin praat in fluisterstemme. Rondom sy tafeltjie in die hoek is daar gewoonlik algehele stilte. Volgroeide mans se stemme verander as hulle met hom praat.

Hulle gesigte word styf en stram. Hulle kyk af, senuweeagtig en waaksaam. Hy probeer persoonlike kontak ten alle koste vermy – daar is nie altyd ontsmetgeriewe naby nie – maar as hy ’n man se hand moet skud, is dié se handpalm gewoonlik klam.

Vroue vind hom skynbaar vreesaanjaend. Hulle kyk onmiddellik weg as sy blik op hulle val.

Die Pion put innerlike genot uit die reaksie wat hy ontlok, want al dié dinge help hom in sy werk. Dit bevestig ook wat sy oorlede moeder baie jare gelede vir hom gesê het: dat hy spesiaal is. “Jy’t iets bonatuurliks aan jou, my kind,” het sy gesê sonder om hom in die oë te kyk. Soos ander vroue het sy ook meestal sy blik vermy.

Hy gaan sit op die bank in die sitkamer en tel die koerant op. Dié word net Woensdae by sy huis afgelewer. Hy het geen belangstelling in die nuus van die dag nie, kyk net vlugtig na die geklassifiseerde advertensies.

Dan vou hy die koerant toe, staan op en stap kombuis toe. Buskruit, frisbee in die bek, is soos gewoonlik kort op sy hakke. Hy gooi die koerant in die vullisdrommetjie voor hy badkamer toe loop.

Terwyl hy die drukkersink van sy hande af skrop, word hy bewus van die verligting in hom. Hoewel hy die afgelope paar jaar uitsonderlik besig was, is dit beslis nog te gou ná sy vorige opdrag – die joernalis in Rondebosch – om ’n nuwe een te kry.

Dit pas hom uitstekend dat hy eers tyd vir sy ernstige leeswerk gaan hê. Hy’t sy boeke oor die groot skaakmeesters voorlopig weggepak. Dit het tyd geword om sy ou spoke te verjaag, en dit kan hy alleen doen deur die materiaal klaar te lees wat hy drie jaar gelede halfpad gelos het.

Maar eers moet hy ’n bietjie aandag aan Buskruit gee. Hy haal ’n stel latekshandskoene uit die badkamerkassie, trek dit aan en neem die frisbee uit die hond se bek.

“Kom, ons gaan speel op die agterste grasperk,” sê hy, en glimlag amper toe die uitgelate dier deur toe storm.

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment