As die Kaap jou in jou moederstad in stuur

Kaapstad is bekend as die Moederstad. Fraai, maar wie se moeder? Want soms behandel hierdie matriarg haar kinders erg stief.

Onder die postwaarheid- skynheilige dekmantel van vooruitgang en desensifisering, draai die Kaap van Storms haar rug op vele van sy weerloosste inwoners. Seepunt was eens ’n mengelmoes van ryk en arm mense. Vandag word die meeste verarmde bejaardes en gewone werkers wat hul hele lewe lank hier gewoon het, uitgedwing na die ver buitewyke van die stad.

Dié eens kosmopolitiese voorstad is nou die speelplek vir ’n sekere groep uitverkorenes. Daar is genoeg plekke wat leeg staan en gebruik kan word vir bekostigbare behuising, maar die stadsvaders se hubris hang soos vet pense oor hul broeke.

Mammon, nie medemenslikheid nie, is die mantra. Die res van die Kaap volg in dieselfde voetspore. Behalwe vir haar verste buitewyke, het die stad onbekostigbaar vir gewone mense geword. Dit is die blinkvet heimat van die elite.

Terwyl dié welvoorsiene kabaal self­voldaan wegkyk, skenk die Moederstad ­die lewe aan ‘n monster: Dit is die ­geboorte van ‘n nuwe apartheid, ekonomies en ruimtelik, waar geen bergie, hawelose, werklose of armoedige in sig moet wees nie.

DIE EERSTE VLAMME, VERMINKTE ­PUINE EN SANDSTIL KUILE ROER REEDS RAKA-AGTIG OP DIE NADERENDE RAND.

Die skitterende poorte van eldorado, goudland, is gesluit, terwyl die gepeupel uit sig uit buite die mure moet wegraak. Net soos ons vandag nog die duur rekening vir apartheid betaal, gaan hierdie kortsigtige modus vivendi groot en ernstige gevolge in die toekoms hê.

Die brose psige van hierdie stad word platgetrap en daarom gaan dié stad nog brand. Die eerste vlamme, verminkte ­puine en sandstil kuile roer reeds Raka-agtig op die naderende rand.

Die organisasie Ndifuna Ukwazi, Reclaim the City, het navorsing oor massa-uitsettings nét in Woodstock openbaar gemaak.

In 2004, in Careystraat, is twee bejaarde vroue ná 50 jaar uit hul huis gesit. In Gympystraat in 2009 is vele families uitgesmyt en na die konsentrasiekampagtige Blikkiesdorp verwyder.

In dieselfde jaar is vyf families uit hul huise in St. James-straat verwyder en immigrante is op die sypaadjie van Victoriaweg agtergelaat. Die jaar 2012: Sewe families is uit hul Cornwellstraat-huise uitgesit, insluitende kinders en ou mense. Later daardie jaar is nog agt families uit dié straat geboender.

IN 2015 HET DIE BROMWELLSTRAAT-SLAGTING BEGIN.

In 2015 het die Bromwellstraat-slagting begin. Families wat al vier generasies lank in dieselfde huise woon, is gevra om te trek. ‘n Vrou van 70 is beveel om te trek, ‘n seweverdiepingwoonstelgebou word ­opgerig.

Hierdie jaar in Albertweg, is 15 families gevra om te loop, die plek waar hulle woon, gaan luukse verblyf word.

In 2013 was die gemiddelde prys van ‘n Woodstock-erf tussen R100 000 en R300 000. Teen 2015 was dit tussen R1,6 miljoen en R2,6 miljoen. In ’n vyf­jaartydperk het eiendomspryse met 72,7% opgeskiet.

Volgende in die visier is die Bo-Kaap, Soutrivier en . . .

Die retoriese vraag: Het ons niks geleer uit die tragiese nagevolge van Distrik Ses nie? Nee.

verskoppeling. s.nw. Iemand wat verstoot is, verstoteling: Die boggelrug is maar ‘n arme verskoppeling. – e-HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal).

Bron: Netwerk 24
Skrywer: Herman Lategan


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment